Stanley Kubrick

Stanley Kubrick
Kubrick in 1975
Kubrick in 1975
Beroep Rolprentregisseur, vervaardiger, draaiboekskrywer, kinematograaf
Gebore 26 Julie 1928, New York
Belangrike werke 2001: A Space Odyssey, Dr. Strangelove, The Shining, A Clockwork Orange, Barry Lyndon, Full Metal Jacket
Jare aktief 1951–1999
Oorlede 7 Maart 1999 (op 70), Harpenden, Hertfordshire, VK
Eggenote Toba Etta Metz (1948–'51)
Ruth Sobotka (1954–'57)
Christiane Harlan (1958–'99)

Stanley Kubrick (26 Julie 1928 – 7 Maart 1999) was ’n Amerikaanse rolprentregisseur, vervaardiger, draaiboekskrywer en kinematograaf wat die meeste van sy werk gedoen het as ’n immigrant in die Verenigde Koninkryk. Hy word beskou as een van die grootste rolprentmakers van alle tye. Sy rolprente, meestal verwerkings van romans en kortverhale, was bekend vir hul treffende en unieke kinematografie, aandag aan besonderhede en die inspirerende gebruik van musiek. Kubrick se prente het ’n verskeidenheid genres gedek, van oorlog en misdaad tot humor en wetenskapsfiksie. Hy was bekend as ’n perfeksionis wat besondere aandag aan elke toneel gegee het en nou saam met sy akteurs gewerk het.

Kubrick het sy loopbaan as fotograaf in New York begin en homself alle aspekte van rolprentvervaardiging geleer. Sy eerste prente is met ’n klein begroting gemaak, gevolg deur een Hollywood-lokettreffer, Spartacus. Die res van sy loopbaan het hy in die Verenigde Koninkryk deurgebring. Hy het van sy huis in Hertfordshire (noord van Londen) geskryf, navorsing gedoen en die produksie van sy films hanteer. So het hy feitlik algehele artistieke beheer gehad, maar ook geldelike ondersteuning van die groot Hollywood-rolprentateljees.

Met baie van sy rolprente het hy nuwe terreine ontgin, soos met 2001: A Space Odyssey (1968), ’n wetenskapsfiksieprent met innoverende visuele effekte en wetenskaplike realisme[1] wat die regisseur Steven Spielberg sy generasie se "oerknal" genoem het. Met Barry Lyndon (1975) het Kubrick spesiale lense laat ontwerp om tonele by kerslig op te neem en The Shining (1980) was van die eerste vollengterolprente waarvoor ’n Steadicam-kamera gebruik is vir stabiliteit en gladde volgskote. Soos met sy vroeëre kortfilms, was Kubrick die kinematograaf en redigeerder van die eerste twee van sy 13 vollengteprente. Hy het die hele of deel van die draaiboek geskryf vir feitlik al sy rolprente, en was ook die regisseur en vervaardiger daarvan.

Hoewel van Kubrick se prente omstrede was en gemengde resensies gekry het, soos Paths of Glory (1957), Lolita (1962) en A Clockwork Orange (1971), is die meeste van sy werke benoem vir óf Oscars óf Golden Globes óf Baftas en is hulle later as meesterstukke beskou. Die rolprenthistorikus Michel Ciment beskou sy films as "van die belangrikste bydraes van die 20ste eeu tot die wêreld se rolprente."[2] As ’n regisseur, meen ’n ander skrywer, is Kubrick " ’n legende in elke sin van die woord, en een van die invloedrykste, skokkendste en mees gerespekteerde mense in die geskiedenis van rolprente".[3]

  1. Giulio Angioni, Fare dire sentire: l'identico e il diverso nelle culture (2011), p. 37 en Un film del cuore, in Il dito alzato (2012), ble. 121–136
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Ciment2
  3. Rossi, Danielle. "Director Spotlight: Stanley Kubrick"[dooie skakel], Daily Targum, Rutgers University, 29 Nov. 2012

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne